|
contents |
 |
Inleiding tot die Resolusies van die
Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop
|
|
Bannelinge
Oosterse adellikes is gereeld na die Kaap verban. Indien hulle as gevaarlik beskou is, is hulle na Robbeneiland gestuur. Ander Oosterse bannelinge is toegelaat om in die Kaap en in die distrikte te woon.
Aan die hand van die Resolusies is dit dikwels moontlik om ’n oorsig te verkry oor sodanige persoon se doen en late waarby die Politieke Raad belang gehad het. Dit was die geval met Pangerang Loringh Passir wat saam met sy broer, Pangerang Dipa Nagara na die Kaap verban is. (Pangerang is ’n adellike titel wat op Java gebruik is vir die seuns van regerende vorste, en ’n adellike titel in Oos-Indië vir ’n inlandse prins of persoon van hoë rang.) Pangerang Loringh Passir se naam verskyn die eerste keer in die Resolusies in 1719, daarna in 1722, 1731, 1732 en in 1737 toe van sy dood berig is. In Junie 1737 meld die Raad dat alles gereël was om sy lyk, asook sy vrouens, kinders en bediendes (17 persone) per skip na Batavia terug te stuur.
Van tyd tot tyd word die name van Oosterse bannelinge in die Resolusies teengekom, onder andere die “gebanne Radja Tambora” en die prinse van Ternaten. In die notule van 11 Februarie 1733 (C. 91) word berig van die “Ternataanssen prins, Ketees Malocco” wat versoek het dat sy drie kinders Amel, Talie (werksaam by onderkoopman Decker) en Adel (werksaam by die weduwee Thibault) by sy slavin “Rosette van Ceylon”, na sy dood vrygestel moes word en erf wat hy sou nalaat.
Op 12 Januarie 1747 (C. 125) word genotuleer van die gewese Madurese regent Radeen Djoerit wat toe pas in die Kaap aangekom het. Op eie versoek wou hy nie brood eet nie, en kon die rys wat hy benodig het maandeliks teen inkoopprys by die Kompanjie se “dispens” gaan haal; volgens dié notule het die Pangerang Loringh Passer in die verlede dieselfde soort versoek gerig.
Tydens die Raadsvergadering van 27 Maart 1759 (C. 137) word aangeteken van die twee Cingalese bannelinge Leander de Saram en Louis Perera wat van Stellenbosch na Swellendam verplaas is. Later (4.5.1761, C. 139) word berig van die briewe wat in hul taal, Cingalees, geskryf is en nie deur enige VOC-amptenaar gelees of verstaan kon word nie.
Op 25 November 1788 (C. 180) dien Achmet, Prins van Ternate, se versoek om saam met sy gesin na die Ooste terug te keer voor die Politieke Raad; dié versoek is toegestaan. Hy en sy familie bestaande uit sy vrou Constantia van die Kaap, haar moeder Dina van die Kaap en grootmoeder Phillida van Batavia, benewens hul kinders Salasa, Fatima, Camies en Abdulla almal van die Kaap, asook ’n vrye “meid” Cita van Bougies en die slaaf Jounga van Ternaten sou per skip, die Voorberg, na Batavia reis. Vanweë die prins se behoeftige omstandighede is hulle van transport- en kosgeld vrygestel.
Aan die einde van die VOC se bewind verskyn die name van die volgende bannelinge op Robbeneiland in die Resolusies: die Javaanse priester Abdul Rassieb (28.8.1792, C. 206), Jan Smit van Dilburg wat in 1787 vir vyf jaar verban is (18.10.1792, C. 208) en Paap Mamoud (7.9.1792, C. 207).
Die banneling Adriaan van Zeyl se aansoek om weer na sy woonplek aan die Kaap terug te keer nadat hy op 21 Maart 1788 uit die land verban is, dien op 1 Oktober 1793 (C. 219) voor die Raad.
Net meer as ’n maand voordat Engeland die Kaap sou oorneem, word daar op 5 Augustus 1795 (C. 231) genotuleer dat 27 stuks bannelinge van Robbeneiland af “herwaarts”, dit wil sê Kaap toe, gestuur sou word.
Top
|